DIE VELE GESIGTE VAN WOORDE

Ek wonder oor woorde. Die vele gesigte van woorde. Hoe hulle van gedaante verander. Regte vormwisselaars (shape shifters)!

Woorde kan destruktief wees. Ek onthou die eerste skrik jare gelede pas nadat ek in ‘n nuwe kompleks ingetrek het. Die middernagtelike geweld van skelwoorde wat ‘n vrou aan die keel gryp, teen die grond slinger. Glas wat breek. Gille van pyn en vrees. Woorde as vroueslaner en skrikmaker.

Woorde kan toksies wees. Dit gebeur in die intieme ruimte van huise. Oor jare heen asem sibbe en bloedmense die tweedehandse rook in. “Jy is ‘n disgrace!”, “Nou trap dan uit my huis uit!” Chemikalieë wat die asem verdring. Psigiese emfiseem. Woorde as verbale misbruiker en krenker.

Hoe arglistig kan woorde nie wees nie. In die politieke arena wêreldwyd krioel woorde soos slange. Soos die slange op Medusa se kop. Moenie kyk nie. Moenie luister nie. Die leuens, bedrog en gebrek aan toleransie is ‘n afskuwelike gesig. Sê nou net jou hart versteen.

Soms is woorde ‘n goedkoop versiering. Iets soos kunsblomme. Kitch. Lippetaal sonder enige substansie. ‘n Plastieksak wat sy mantel willoos draai na die wind.

Genoeg van die jeremiade van woorde.

Soos die borrels in vonkelwyn skiet woorde boontoe en laat jou skaterlag! Nataniël se kwinkslae op die program, Edik van Nantes en in sy rubriek, Kaalkop is pure vonkel-genot. Hierdie vonkels is elke dag om ons. ‘n Luisteraar bel in op RSG en sê oor die droogte in die Kaap: “Dis so droog ons stort nie meer nie, ons stof sommer net af.” ‘n Vriendin vra: “Dink jy daai hoë hol weet wat hy doen?” Giggel-snaaks.

O ja, woorde verlei. Wanneer dit by musiek kom, kan die kombinasie van ‘n stem, woorde en musiek dodelik wees. Die volgende kategorieë kan werk: sexy, sensueel, smeulend. “Lyf” van Albert de Wet oorrompel jou, “Mysterious Ways” van Bono sleur jou mee, “Sugar” van Tori Amos gee ‘n nuwe betekenis aan levitasie.

Die helende krag van woorde is ‘n gesprek op sy eie. So ook die woordlandskap van die spirituele.

Glo my, ek is versot op woorde. Oor stilte praat ek nie eers nie. Lieflike dinge gebeur in stilte.

© Marié Jacobs, 2 Junie 2017

“Artisjokhart” deur Karen de Wet

Artisjokhart deur Karen de Wet

 

Vanlaatmiddag het weggewaai.

Soos wat die geur van speserye op die markplein

teen sononder en naskemer agter die verkopers

se goudbruin arms, se sagte geurige hande aan

– en gedienstig soos vrou, geseglik soos kind –

na huis en gemeensaamheid loop

 

Buite is daar geen bote meer nie –

net die smal kanoblare van die karee

bly wieg op die deining van die wind.

Maar hier binne waar ons deur die skadu’s omhul

bly sit, word dit die see – die drywende wolke lig

soos drome, soos hande, en met vingers wat vat.

 

Tot jy aartshonger en buitenstyd die artisjokslaai

bestel en dit opdaag soos tapas uit Spanje:

Klein porseleinkommetjie waarin die olyfolie

met stadige hale swem, goud en glad en gul,

brons soos die Spaanse son die soet flenters

rooirissie soos flamenco’s aan die bloei daarin.

En in die middel die koningsproteakleur,

die eindelose papierbaslae, van die artisjokhart

wat jy tydsaam sit en afdop, oopvou.

 

Klein olieverfskildery tussen my en jou.

 

Uit: nuwe stemme 3, Tafelberg, 2005

 

Die volgende artikel is my respons op die gedig, “Artisjokhart” deur Karen de Wet.

Ek het “Artisjokhart” vir die eerste keer raakgelees in nuwe stemme 3 (Tafelberg, 2005). Die skoonheid van hierdie gedig het my dadelik oorrompel. Onlangs soeklees ek deur die inhoudsopgawe van Groot Verseboek, Band 3 (Tafelberg, 2008), en was ek nou aangenaam verras om te sien dat beide “Artisjokhart” en “nagwind in maart” van Karen de Wet in Groot Verseboek opgeneem is.

In die eerste reël van die gedig eis die ongewone gebruik van die woord “Vanlaatmiddag” (‘n samevoeging van “vanmiddag” en “laatmiddag”) onmiddellik die leser se aandag op. Die woord skep ‘n gevoel van onmiddellikheid en ‘vastigheid’. Om net daarna in kontras te staan met “weggewaai”. Hiermee word ‘n deurlopende opposisie in die gedig ingelei nl. dit wat bly (duursaam) en dit wat verbygaan (vervlietend).

Saam met die wegwaai van die middag stap die verkopers van die markplein huis toe. Die geur van speserye kleef aan hulle hande (“geurige hande”) en volg hulle huis toe. Chronologies gelees, skep die tydsfrases “sononder” en “naskemer” ‘n gevoel van tyd wat duur. Die verkopers loop vir ‘n periode van tyd huis toe, daar is geen haas nie.

Die terugloop huis toe is deel van die gang van elke dag. Dit gebeur in die gees van ‘n vrou se dienswilligheid (“gedienstig”) en ‘n kind se gehoorsaamheid (“geseglik”). Die vergelykings in strofe 1 skep ‘n gevoel van intimiteit en vertroudheid. Die g-klanke in dié strofe is opvallend en ondersteun dié gevoel.

Dis steeds laatmiddag in strode 2 en daar is geen bote meer op die water nie. Die blare van die karee wieg nou, soos bote, op die deining van die wind. “Kanoblare” vervang bote en die wind / lug vervang see. In kontras met die beweging van die blare bly die twee mense (“ons”) in ‘n restaurant sit. Die “drywende wolke” word gepersonifieer: hulle is lig soos drome en hande, hulle het vingers wat vat.

In strofe 3 bestel die “jy” ‘n artisjokslaai. Ten spyte van die feit dat dit “buitenstyd” (buite seisoen?) is, daag dit wel op. Die woord “opdaag” skep ‘n gevoel van onverwagsheid. Die slaai herinner die spreker aan tapas uit Spanje, dus iets uitheems en eksoties. Die beskrywing van die slaai in reël 15 tot 18 is ryk en sensueel. Die alliterasie van die g-klanke (“goud en glad en gul”) en die s-klanke (“brons soos die Spaanse son”) suggereer die besondere kleur en fluweelagtige tekstuur van die olyfolie. Die stukkies rooirissies lyk soos Spaanse dansfiguurtjies (“flamenco’s”).

Wanneer die “jy” die lae van die koningsprotea afdop en oopvou, gebeur dit weer eens – soos al die aktiwiteite dié middag – sonder haas (“tydsaam”). Daar is ‘n interessante spel tussen beweging en bewegingloosheid / stilstand in die gesig. Opvallend is die afwesigheid van ‘n werkwoord in die slotsin. Die olieverfskildery is ‘n gestolde moment tussen twee mense.

Die titel moet op verskillende vlakke gelees word. Letterlik verwys die titel na die binneste kern van die artisjok. Tweedens versinnebeeld dit iets besonders wat twee mense deel – ‘n gestolde moment vol intimiteit en sensualiteit. Derdens word die artisjokhart ‘n metafoor van die binneste kern van die mens, die hart. Die spreker se hart word onomkeerbaar aangeraak.

In die eerste reël het vanmiddag weggewaai. In die slotreël bly die olieverfskildery. So ook die gedig.

© Marié Jacobs, 22 Junie 2017

 

jou brief is wonderlik – B. Breytenbach

jou brief is wonderlik  deur Breyten Breytenbach

 

jou brief is wonderlik, nog groter en ligter

as die gedagte aan ‘n blom wanneer die droom

tuingrond is,

jou brief gaan oop iets ontvou

en van buite kom daar lug kom daar woorde

kom ruimte,

 

ek het in groen weivelde geslaap

ek het op die rand van die dal van doodskaduwee

in die laaste nagwaak

gelê en luister hoe die veroordeeldes

deur gange in die grond gelei word,

hoe hulle sing,

 

met die asems in die monde

soos inwoners wat op vertrek staan

omdat die stad brand, hoe hulle sing

met die asems soos boeie,

hoe hulle sing,

hulle wat van die donker in die lig gaan spring

hulle wat gepos gaan word na ‘n bestemminglose adres,

en ek het die onheil gevrees

 

die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders

is leeg, ek het as op my hoof,

my beker is leeg,

 

en ek het na jou brief gevlug en gelees

van die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels

wat oopgaan met die son,

ek kon dit ruik op die balkon,

ek kan jou ruik

 

nog heerliker en ligter as die gedagte aan ‘n blom

in hierdie donker nag,

 

ek sal aan jou woorde aan die lug hang,

gee dat ek in jou brief mag woon

in lengte van dae

 

envoi,

jou brief is wonderlik, nog groter en ligter

as die gedagte aan ‘n blom wanneer die droom

tuingrond is,

jou brief gaan oop iets ontvou

en van buite kom daar lug kom daar woorde

kom onthou,

Uit: Voetskrif, 1976

 

Die volgende inskrywing is my refleksie op Breyten Breytenbach se gedig, “jou brief is wonderlik”. Dit is nie bedoel as ‘n akademiese artikel of ‘n volledige analise van die gedig nie.

Ek het groot waardering vir Breyten Breytenbach as mens en digter. Ek is nie ‘n kenner van sy werk nie, maar wanneer ek sy gedigte lees, is ek altyd verwonderd. Hy is een van die bekendste en mees enigmatiese figure in die Afrikaanse letterkunde. Sy digbundel, Voetskrif, word in 1976 gepubliseer terwyl hy in aanhouding in die tronk is. Die gedig, “jou brief is wonderlik” is die 23ste gedig in die bundel en betrek Psalm 23 as interteks.

Die spreker in die gedig is in ‘n tronksel vasgekeer. Die sel is donker en klein en hy is alleen. Die spreker ontvang ‘n brief van sy beminde. Kyk ‘n mens na die metafoor in reël 2 en 3, sien jy dat “gedagte” en “droom” saamhoort soos “blom” en “tuingrond”. Net soos wat ‘n blom tuingrond nodig het om te groei en te blom, so kom ‘n gedagte eers tot wasdom as dit deel is van ‘n (groter) droom. Is die droom om vry te wees? Om fisies by sy beminde, die skrywer van die brief te wees? Die brief is vir hom nog wonderbaarliker as die blom en grond. Die brief gaan ‘oop’ soos die blare van ‘n blom en bring daarmee saam alles waarna hy hunker: lug, woorde, ruimte.

“ek het in groen weivelde geslaap” (reël 7) is ‘n variasie op Psalm 23, vers 3, “Hy laat my neerlê in groen weivelde”. Die spreker ervaar hier tog ‘n mate van rus en kalmte.  Groen wys op groei en lewe en sluit as sodanig by die blom-beeld aan. In die volgende reël bevind die spreker hom egter op “die rand van die dal van doodskaduwee”. Dis vroegoggend: “nagwaak” is volgens die Romeinse indeling  ongeveer vieruur. Hy hoor hoe die veroordeeldes deur die gange gelei word “soos inwoners wat op vertrek staan”. Die gevangenes gaan tereggestel word. Hulle huil nie, hulle skree nie, hulle sing.

Die herhaling van die frase “hoe hulle sing” verkry ‘n ritmiese kwaliteit. Dit word ‘n tipe inkantasie, asof die spreker homsélf deur die herhaling troos en sus om die verskriklike gedagte aan hulle teregstelling te verdryf. Die gebruik van “asems’ in strofe 3 is treffend. “hoe hulle sing, / met die asems in die monde”: hou  letterlik verband met hulle sang; moontlik ‘n binnensmondse neuriesang? “hoe hulle sing / met die asems soos boeie,” is ‘n paradoksale beeld: hulle haal asem, maar  is  ingekerker en verdoem. Die veroordeeldes se bestaan is “donker” (reël 18) en die dood “lig”. Die dood bring bevryding. Elkeen word soos ‘n brief ‘gepos’ na ‘n adres wat nie bestaan nie. Niemand gaan weer van hulle hoor of hulle ooit weer opspoor nie. Die spreker is op die rand van die dal van doodskaduwee. In kontras met die Psalmdigter bely hy dat hy die onheil (die dood, die onderdrukker) vrees. Miskien is hy volgende?

In strofe 4 het die spreker niks oor om te gee of self te geniet nie. In Psalm 23 word die tafel berei, die Psalmdigter se hoof is vet met olie en sy beker loop oor. Daarteenoor is die spreker se tafel en beker leeg en hy het “as” op sy hoof (hy rou). Daar is geen sprake van oorvloed nie.

Die spreker herlees sy beminde se brief en dit word ‘n sintuiglike ervaring. In sy geestesoog sien hy die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels, hy sien hoe dit oopgaan, hy ruik dit op die balkon. En dan die hoogtepunt: hy ruik sy beminde. Dit is asof sy daar is. En dit is heerliker en ligter as selfs die gedagte aan ‘n blom. Dit bring bevryding.

Uiteindelik word die digter self die blom en die brief die grond. Hy word aan die lewe gehou deur haar woorde.

Die slotstrofe is ‘n indentiese herhaling van strofe een, behalwe vir “ruimte”, nou vervang met “onthou”. envoi beteken slotwoorde. Die slotstrofe dien as ‘n refrein. Die brief het “onthou” gebring, herinneringe van en aan sy geliefde. Die gedig eindig met ‘n komma in plaas van ‘n punt. Die gedagte van onthou word hierdeur voortgesit; die effek van die brief bly voortduur.

Met haar brief lei die geliefde die spreker uit die dal van doodskaduwee na die lig. Haar woorde verkwik hom. Die herinneringe bevry hom, al is dit tydelik. Beminde word herder.

Bronnelys     

Breytenbach, B. 1976. Voetskrif. Johannesburg: Perskor-Uitgewery.